GereedskapAnder tale
|
Rusland
Rusland (Russies: Россия, Rossija), amptelik die Russiese Federasie (Russies: Российская Федерация, Rossijskaja Federatsija), is ’n land wat gedeeltelik in Europa en gedeeltelik in Asië lê. Die land lê egter vanuit ’n politieke oogpunt in Europa omdat die belangrikste deel, ook die hoofstad, Moskou, Europees is en sowat 70% van die bevolking daar woon. Met sy oppervlak van 17 098 242 km² is Rusland die grootste land ter wêreld, byna twee maal so groot soos die tweede grootste land, Kanada. Dit grens aan (antikloksgewys van NW na SO): Noorweë, Finland, Estland, Letland, Litaue, Pole, Wit-Rusland, Oekraïne, Georgië, Azerbeidjan, Kazachstan, Sjina, Mongolië en Noord-Korea. Verder is dit deur ’n see of smal seestraat geskei van die Verenigde State (Alaska), Kanada, Turkmenistan, Iran, Turkye, Swede en Japan. Die land se geskiedenis begin met die ontstaan van die Slawiërs tussen die 3de en 8ste eeu.[1] Die eerste Slawiese staat, Kiëf-Roes, het in die 9de eeu ontstaan. Dit is deur Wikings regeer en het in 988 die Christelike geloof van die Bisantynse Ryk aanvaar. Kiëf-Roes het uiteindelik verbrokkel en in talle klein feodale Russiese state verdeel. Die belangrikste hiervan was die Groothertogdom van Moskou of Moskowië. Moskou het mettertyd die omringende Russiese prinsdomme herenig en die plek van Kiëf-Roes ingeneem. Teen die 18de eeu het die land uitgebrei tot die groot Russiese Ryk, wat gestrek het van Pole tot die Stille Oseaan. In die 20ste eeu het Rusland as die Russiese Sosialistiese Federale Sowjetrepubliek (RSFSR) die kern gevorm van die Sowjetunie, die wêreld se eerste en grootste grondwetlik sosialistiese staat en saam met Amerika een van die wêreld se twee supermoondhede. Toe die Sowjetunie in 1991 verbrokkel, is die Russiese Federasie gestig. Rusland is ’n permanente lid van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad en ’n voorste lid van die Gemenebes van Onafhanklike State (GOS) en die G8.
[wysig] GeografieDie Russiese Federasie lê uitgestrek oor die grootste deel van Noord-Eurasië. Vanweë sy grootte is daar groot eentonigheid én afwisseling. Sy klimaat, plantegroei en grondsoorte strek oor ’n groot gebied. Saam met die klimaat wissel die plantegroei: van die toendra van die Oos-Europeese Vlakte en die taiga (naaldboomwoude) tot die steppe (grasvelde) en halfwoestyn aan die Kaspiese See. Daar is 23 Wêrelderfenisgebiede [2] in die land. [wysig] TopografieDie twee dele van Rusland wat die verste van mekaar geleë is, is sowat 8 000 km uitmekaar: die grens met Pole en die verre suidooste van die Koeril-eilande naby Japan. Rusland is oor elf tydsones versprei.
Die Wasjoegan-rivier op die vlaktes van Wes-Siberië
Die land het die wêreld se grootste oppervlakte woude [3] en is bekend as "die longe van Europa"[4]. Net die Amasone-reënwoud absorbeer meer kooldioksied. Dit voorsien Europa en die hele wêreld van ’n enorme hoeveelheid suurstof. Russiese hengelvlote het toegang tot drie van die wêreld se oseane – die Atlantiese, die Arktiese en die Stille Oseaan – en hulle verskaf baie van die wêreld se visvoorraad.[5] Die Kaspiese See is die bron van wat beskou word as die wêreld se beste kaviaar. Die grootste deel van Rusland bestaan uit uitgestrekte vlaktes, hoofsaaklik steppe na die suide en digte woude na die noorde met toendra aan die noordelike kus. Bergreekse word aangetref aan die suidelike grense, soos die Kaukasus (met Berg Elbroes, teen 5,642 m / 18,511 ft Rusland en Europa se hoogste punt) en die Altai, asook in die oostelike dele, soos die Werchojansk-reeks en die vulkane op die Kamtsjatka-skiereiland. Die Oeralberge strek noord-suid en verdeel Europa en Asië. Dit is ook ryk aan minerale bronne. Altesaam 10% van die wêreld se bewerkbare grond lê in Rusland.[6] Rusland se kuslyn is langer as 37 000 km aan die Arktiese en die Stille Oseaan, sowel as die Oossee, See van Azof, Swartsee en Kaspiese See[7]. Die Barentssee, Witsee, Karasee, Laptefsee, Oos-Siberiese See, Tsjuktsji-see, Beringsee, See van Ochotsk en die Sea van Japan is met Rusland verbind. Groot eilande en eilandgroepe sluit in Nowaja Zemlja, die Franz Josef-land, die Sewernaja Zemlja, die Nieu-Siberiese Eilande, Wrangeleiland, die Koerileilande en Sachalin. Rusland het duisende riviere en mere en het dus een van die wêreld se grootste binnelandse waterbronne. Die grootste van sy watermassas is die Baikalmeer, die wêreld se diepste en mees onbesoedelde varswatermeer.[8] Dit bevat meer as ’n vyfde van die wêreld se vars water.[9] Ander groot mere is onder andere die Ladoga en die Onega. Van sy 100 000 riviere[10] is die Wolga die land se bekendste, nie net omdat dit die langste rivier in Europa is nie, maar ook vanweë sy groot rol in die Russiese geskiedenis. Rusland se talle natuurlike hulpbronne sluit in petroleum, natuurlike gas, steenkool, hout en minerale.[7][11] [wysig] KlimaatVerskeie faktore bepaal Rusland se klimaat. Die enorme grootte van die land en die feit dat baie dele ver van die see is, veroorsaak dat daar in die grootste gebied ’n kontinentale klimaat is, behalwe in die toendra en die verre suidooste. Berge in die suide verhinder die vloei van warm lugmassas van die Indiese Oseaan af en die vlaktes in die weste en noorde stel die land bloot aan Arktiese en Atlantiese invloede.[12] In die grootste deel van die land is daar hoofsaaklik twee seisoene: winter en somer. Die lente en herfs is gewoonlik net kort tydperke van wisseling tussen baie lae en baie hoë temperature. Die koudste maand is Januarie (Februarie aan die kus), die warmste is gewoonlik Julie. Groot tempetuurverskille is tipies. In die winter word dit kouer van suid na noord sowel as van wes na oos. [wysig] Deelgebiede
Die Russiese Federasie bestaan uit 83 deelgebiede (Russies: субъекты; soebjekti). Hierdie gebiede het ’n gelyke verteenwoordiging in die Staatsdoema (2 afgevaardigdes per deelgebied), maar die mate van outonomie verskil. Rusland onderskei die volgende ses kategorieë (soos vanaf 1 Maart 2008): 21 outonome republieke (state), 46 oblaste (provinsies), 8 krais (distrikte), 1 outonome oblast, 5 outonome distrikte en 2 federale stede (Moskou en Sint Petersburg), wat vergelykbaar is met oblaste. [wysig] Regering en politiek
Die gebou van die Staatsdoema
Volgens die Russiese grondwet, wat op 12 Desember 1993 met ’n nasionale referendum aanvaar is, is Rusland ’n federasie en ’n semi-presidensiële republiek, waarin die president die staatshoof is[13] en die eerste minister die regeringshoof. Die Russiese Federasie is in wese ’n verteenwoordigende demokrasie. Die uitvoerende mag lê by die regering.[14] Die wetgewende mag lê by die regering en die twee kamers van die Federale Vergadering.[15] Die regering word gereguleer deur ’n stelsel van skeiding van magte soos bepaal in die grondwet. Die federale regering bestaan uit die volgende:
Volgens die Russiese grondwet is grondwetlike justisie in die howe gebaseer op die gelykheid van alle burgers, [16] die regters is onafhanklik en net onderworpe aan die wet,[17] verhore moet oop wees vir die publiek en beskuldigdes word verdediging gewaarborg.[18] Sedert 1996 is daar ’n moratorium op die doodstraf, hoewel dit nog nie wetlik afgeskaf is nie. Die president word deur die volk gekies vir ’n termyn van vier jaar[19]. Hy is vir ’n tweede termyn herkiesbaar, maar nie vir ’n derde termyn nie.[20] Die laaste verkiesing is op 2 Maart 2008 gehou. Regeringsdepartemente bestaan uit die eerste minister en onderpremiers, ministers en ander verkose individue, wat almal deur die president aangestel word. Van die belangrikste politieke partye in Rusland is Verenigde Rusland, die Kommunistiese Party, die Liberaal-Demokratiese Party van Rusland en Regverdige Rusland. [wysig] Buitelandse betrekkinge en die weermagIn die internasionale reg word erken dat Rusland die plek van die voormalige Sowjetunie ingeneem het.[21] Rusland sit die internasionale verpligtinge van die Sowjetunie voort, het dié land se permanente plek ingeneem in die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies en het sy lidmaatskap oorgeneem van ander internasionale organisasies, asook sy regte en verpligtinge wat internasionale verdrae en skuld betref. Rusland se buitelandse beleid het vele fasette. Die land het diplomatieke betrekkinge met 178 lande en het 140 ambassades.[22] Sy buitelandse beleid word bepaal deur die president en word geïmplementeer deur die departement van buitelandse sake.[23] As een van die vyf permanente lede van die VN se Veiligheidsraad speel Rusland ’n belangrike rol in die handhawing van internasionale vrede en veiligheid – asook in die oplossing van internasionale konflikte deur sy deelname aan die Midde-Oosterse Kwartet, the sesparty-samesprekings met Noord-Korea en die oplossing van die Kosovo-konflik. Rusland is lid van die G8 (groep van agt nywerheidslande), die Europese Raad, die Organisasie vir Veiligheid en Samewerking in Europa en die Asies-Pasifiese Ekonomiese Samewerkingsforum. Rusland speel ook gewoonlik ’n leidende rol in streekorganisasies soos die Gemenebes van Onafhanklike State (GOS), Eurasiese Ekonomiese Gemeenskap, die Verdragsorganisasie vir Kollektiewe Veiligheid en die Sjanghaise Samewerkingsorganisasie. Sedert die verbrokkeling van die Sowjetunie het Rusland ’n vriendskapliker dog wispelturige verhouding met die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo). Die Navo-Russiese Raad is in 2002 gestig om samewerking tussen hulle te bevorder.[24] Rusland het Sowjet-bates oorsee oorgeneem en die meeste van die Sowjetunie se vervaardigings- en verdedigingsgeriewe is in die land self.[25] Die Russiese weermag bestaan uit die grondmag, vloot en lugmag. In 2006 het die weermag 1,03 biljoen lede in aktiewe diens gehad. Rusland het die grootste voorraad kernwapens in die wêreld en die tweede grootste vloot ballistiese-missiel-duikbote.[26] Die land vervaardig al sy eie militêre toerusting en is sedert 2001 die grootste verskaffer van wapens: Hy is verantwoordelik vir sowat 30% van wapenverkope wêreldwyd[27] en voer wapens na sowat 80 lande uit.[28] Net soos in die Sowjetunie is daar diensplig vir alle manlike burgers tussen 18 en 27 jaar. Weens verskeie probleme is die tydperk in 2008 begin verkort sodat kontraksoldate teen 2010 70% van die weermag kan uitmaak. Verdedigingsuitgawes het die afgelope ses jaar verviervoudig.[29] Die regering se amptelike militêre uitgawes in 2008 is $40 biljoen,[30], hoewel verskeie bronne soos Amerikaanse Intelligensie[31] en die Internasionale Instituut vir Strategiese Studies[32] dit heelwat hoër raam.[33] Tussen 2006 en 2015 word sowat $200 biljoen bestee aan die opgradering van militêre toerusting.[34] [wysig] EkonomieSedert die begin van die huidige eeu het stygende oliepryse, toenemende buitelandse beleggings, hoër binnelandse verbruik en groter politieke stabiliteit Rusland se ekonomiese groei ’n hupstoot gegee. Die land het 2007 vir die negende agtereenvolgende jaar met ekonomiese groei afgesluit, met ’n gemiddelde van 7% per jaar sedert die finansiële krisis van 1998. In 2007 was Rusland se Bruto Binnelandse Produk (BBP) $2 076 triljoen, die sewende grootste in die wêreld en 8,1% hoër as die vorige jaar. Die gemiddelde salaris in Rusland was vroeg in 2008 sowat $640 per maand in vergelyking met $80 in 2000.[35] Sowat 14% van Russe het in 2007 onder die broodlyn gelewe[36] – heelwat minder as die 40% in 1998 toe die ekonomie op sy grootste laagtepunt was sedert die verbrokkeling van die Sowjetunie. Werkloosheid was 6% in 2007 in vergelyking met sowat 12,4% in 1999.[37][38]
’n Rosneft-vulstasie. Rusland is die grootste uitvoerder van natuurlike gas en die tweede grootste olie-uitvoerder in die wêreld.
Rusland het die wêreld se grootste natuurlike-gas-, tweede grootste steenkool- en agtste grootste oliereserwes. Dit is die grootste uitvoerder van natuurlike gas in die wêreld en die tweede grootste olie-uitvoerder. Olie, natuurlike gas, metale en hout maak 80% uit van die land se uitvoer. In 2001 het ’n meer gestroomlynde belastingstelsel die las op die land se burgers verlig en staatsinkomste verhoog.[39] Die ekonomiese ontwikkeling van die land is egter oneweredig aangesien die Moskou-streek ’n buitengewoon groot bedrag tot die BBP bydra.[40] ’n Groot deel van Rusland, veral plattelandse gebiede, vaar veel swakker. Tog het die middelklas gegroei van net 8 miljoen mense in 2000 tot 55 miljoen in 2006.[41] Rusland het in 2007 altesaam 110 biljoenêrs gehad, die grootste getal buiten die VSA.[42] Ondanks die land se sterk ekonomiese groei lys die Wêreldbank verskeie uitdagings wat die Russiese ekonomie in die gesig staar, onder meer die diversifisering van die ekonomie en die aanmoediging van die groei van klein en middelslag-besighede. Inflasie was teen die einde van 2007 sowat 12% in vergelyking met 9% in 2006. Die styging het in die eerste kwartaal van 2008 voortgeduur, hoofsaaklik weens stygende kospryse. [wysig] BevolkingDie Russiese Federasie het ’n uiteenlopende, veelrassige bevolking van 142 miljoen mense, wat tot sowat 160 verskillende etniese groepe en inheemse volke behoort:[43]
Hoewel die bevolking groot is, is die bevolkingsdigtheid klein vanweë die geweldige grootte van die land. Die digtheid is die hoogste in Europese Rusland, naby die Oeral-gebergte en in Suidwes-Siberië. In 2006 het 186 380 immigrante Rusland binnegekom, waarvan 95% van GOS-lande is.[44] Daar is ook sowat 10 miljoen onwettige immigrante van oud-republieke van die Sowjetunie.[45] Sowat 73% van die burgers woon in stedelike gebiede.[46] Die twee grootste stede is Moskou (10 126 424 inwoners in 2002) en Sint Petersburg (4 661 219). Elf ander stede het meer as ’n miljoen inwoners: Jekaterinburg, Kazan, Nizjni Nowgorod, Nowosibirsk, Oefa, Omsk, Perm, Rostof aan die Don, Samara, Sint Petersburg, Tsjeljabinsk en Wolgograd.
Russiese stede met meer as ’n miljoen inwoners
Jekaterinburg | Kazan | Moskou | Nizjni Nowgorod | Nowosibirsk | Oefa | Omsk | Perm | Rostof aan die Don | Samara | Sint Petersburg | Tsjeljabinsk | Wolgograd [wysig] Verwysings
Albanië | Andorra | Armenië2 | Azerbeidjan1 | België | Bosnië-Herzegowina | Bulgarye | Kroasië | Ciprus2 | Denemarke | Estland | Finland | Frankryk | Duitsland | Georgië1 | Griekeland | Hongarye | Ysland3 | Ierland | Italië | Letland | Liechtenstein | Litaue | Luxemburg | Macedonië | Malta | Moldawië | Monaco | Montenegro | Nederland | Noorweë | Oostenryk | Pole | Portugal | Roemenië | Rusland1 | San Marino | Serwië | Slowakye | Slowenië | Spanje | Swede | Switserland | Tsjeggië | Turkye1 | Oekraïne | Verenigde Koninkryk | Vatikaanstad | Wit-Rusland Afhanklikhede: Akrotiri and Dhekelia2 | Faroëreilande | Gibraltar | Guernsey | Jan Mayen | Jersey | Eiland Man | Svalbard 1. Land deels in Asië. 2. Geografies in Asië , maar gereeld beskou as deel van Europa agv kulturele en historiese oorwegings. 3. Land deels in Noord-Amerika
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||