GereedskapAnder tale
|
Parys
Parys (Frans: Paris [paˈʀi]) is die hoofstad en grootste stad van Frankryk met 2 153 600 inwoners (2005) en 'n oppervlakte van 105,4 km². 12 067 000 mense woon in die metropolitaanse gebied van Parys (1 Januarie 2007). In administratiewe opsig is Parys tegelykertyd 'n stad en 'n département. Parys is die hoofkwartier van internasionale organisasies soos die UNESCO, die OECD, die Internasionale Handelskamer (ICC/CCI) en die Europese Ruimtevaartorganisasie ESA. Dit is die grootste Franstalige metropool en die kulturele sentrum van die Franstalige gemeenskappe (Frankofonie). Parys, sy voorstede (La Petite Couronne - "Klein Randgebied") en die omgewing (La Grande Couronne - "Groot Randgebied") word L'Île-de-France genoem - dit is die historiese hartland van Frankryk en sy geestelike middelpunt. Daar is geen ander stad wat dieselfde bevoorregte stelling in sy eie land en op sy kontinent inneem soos Parys nie - dit is die stad van die avantgarde, die stad wat steeds aan die voorpunt van belangrike ontwikkelings staan. Parys is geweldig invloedryk in Frankryk, Europa en die wêreld, wat mode, kuns, politiek, argitektuur, filosofie, musiek en filmkuns betref. Die metropolitaanse gebied van Parys is ook die belangrikste finansiële en sakesentrum van Europa en die hoofkwartier van sowat 40 persent van die Franse maatskappye. Die bruto nasionale produk van hierdie gebied is groter as dié van Australië. Die voorstad La Défense in die département Hauts-de-Seine huisves die grootste sentrale besigheidsgebied van Europa en op een na ook die grootste Europese aandelebeurs.
[wysig] GeografieDie Paryse stadsgebied het 'n oppervlak van 105,4 vierkante kilometer, terwyl die metropolitaanse gebied van Parys oor 14 518 vierkante kilometer strek. Die stad lê in die sentrum van die Paryse Bekken en 'n gemiddelde 65 meter bo seevlak. Parys word deur twee groot bosgebiede omring, wat as ontspanningsgebiede vir die stedelike bevolking dien. Die hoogste berg binne die stadsgrense is die heuwel Butte Montmartre (129 meter). 'n Kabelkar, die Funiculaire de Montmartre, neem besoekers na die bergspits. Teen die hange van die Montmartre lê ook die enigste wingerd van die Franse hoofstad. Die Paryse meridiaan, wat in 1718 deur Jacques Cassini vasgelê en in 1806 deur die Franse natuurkundige Arago noukeurig bereken is, het tot by die jaar 1884 toe die Internasionale Meridiaan-konferensie in Washington, DC gehou is, een van baie nulmeridiane gevorm. Dit loop regdeur die Paryse sterrewag en word sowel deur 'n aantal suile asook deur die Arago-bronsmedaljonne aangedui wat in 1995 deur die Nederlandse konsepkunstenaar Jan Dibbets op 'n diskrete manier in die straatplaveisel, sypaadjies, binnehowe en verskeie geboue (waaronder die Louvre-museum) versink is. Die medaljonne is 'n eerbetuiging vir hierdie bekende Franse natuurkundige en menseregte-aktiwis. Van die oorspronklik 135 plakkette, wat aanvanklik min belangstelling gewek het, is ná die vrystelling van The Da Vinci Code, die Amerikaanse skrywer Dan Brown se blitsverkoper-riller, gesteel. Dan Brown se verwysing na 'n sogenaamde "Roselyn" in verband met die medaljonne is suiwer fiktief. [wysig] KlimaatParys het 'n gematigde oseaniese klimaat wat deur die Noord-Atlantiese Stroom beïnvloed word. Daar is dus gewoonlik geen ekstreme weerstoestande wat van buitengewoon hoë of lae remperature vergesel word nie. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur is 10,9 °C. Die gemiddelde jaarlikse hoogste temperatuur is sowat 15 °C, die gemiddelde laagste jaarlikse temperatuur sowat 7 °C. Die hoogste temperatuur wat ooit aangeteken is was 40,4 °C op 28 Julie 1948, en die laagste -23,9 °C op 10 Desember 1879. In die laaste jare is die gebied van Parys met die Europese hittegolf van die jaar 2003 en die baie koue winter van die jaar 2006 deur twee ekstreme weerverskynsels getref. Reënvalle kom dwarsdeur die jaar voor, en Parys staan bekend vir sy skielike reënbuie. Die gemiddelde jaarlikse neerslae is 641,6 millimeter. Sneeuvalle word in Parys nouliks aangeteken; gewoonlik is dit 'n baie kortstondige dun sneeulaag wat gedurende die maande Januarie en Februarie mag voorkom.
[wysig] GeskiedenisDie vroegste Keltiese nedersettings het op twee klein eilande in die rivier Seine, wat deur die stad vloei, ontstaan. In daardie tyd het die dorp bekend gestaan as Louk-teih (Plek van die Moeras) of Lutu-hezi (Waterwoning). Hoewel dit net uit 'n klompie houthutte bestaan het, was dit 'n plek wat danksy die strategies belangrike ligging deur die Romeine uitgebou is. In die Romeinse tydperk het die stad die naam Lutetia Parisiorum gekry (die Parisii is 'n Galliese stam wat in die streek gewoon het). Die Gallo-Romeinse stad het ongeveer die oppervlak van die huidige cité (ou stadskern) beslaan en is danksy die Heilige Geneviève (422-502) in 451 deur die Hunne - wat toe groot dele van Europa verwoes het - gespaar. Onder die Frankiese bewind het Parys as die hoofstad van die Neustriese Deelryk gedien, maar dit is in die Karolingiese tydperk weer afgeskaal tot hoofstad van die graafskap. Met die bekroning van hertog Hugo Capet as koning van Frankryk 987 het Parys sy status as hoofstad van die ryk herwin. Parys het groot welvaart uit sy ligging ervaar - belangrike handelsroetes het hier bymekaar gekom, en aan die begin van die 12de eeu is die stad aansienlik vergroot. Tydens die heerskappy van die konings Lodewyk VI en VII het die stad meer en meer administratiewe funksies as hoofstad van Frankryk begin waarneem, en sy beroemde skole - soos byvoorbeeld die katedraalskool van Sainte-Geneviève - het die vernaamste geleerdes en 'n groot aantal studente van verskillende Europese lande gelok. Hierdie skole wat hulle hoofsaaklik aan die linkeroewer van die rivier Seine geleë was, was die voorlopers van die Universiteit van Parys wat in die twaalfde eeu gestig is. Die studente het gewoonlik Latyn met mekaar gepraat sodat na hulle woonbuurt (wat vandag nog bestaan) as die Quartier Latin verwys is. Die stad het ook in die 13de eeu nog sterk gegroei; die koninklike paleis is vergroot en die Gotiese katedraal in die cité (historiese stadskern) is opgerig. Koning Filips II het die stad, wat nou sowat 80 000 inwoners getel het, laat versterk, en onder koning Lodewyk IX het dit uiteindelik tot een van die grootste en belangrikste stede in Europa ontwikkel. Die stad het saam met die monargie gegroei, maar weens sy oorgrote politieke belang is dit nooit stadstatus toegestaan nie. 'n Koninklike provost het Parys geregeer, en behalwe vir die gildes - by name die koopliede van die Seine - het die burgerskap nie daarin geslaag om 'n stadsraad of ander verteenwoordigende liggame te skep nie. Die Sonkoning Lodewyk XIV het verkies om in die nabygeleë Versailles te bly, wat van daardie stad tussen 1643 en 1715 die koninklike hoofstad gemaak het. Die burgerlike verset teen die absolutistiese "Ancien Régime" het 'n hoogtepunt in die Franse Rewolusie bereik. Op 14 Julie 1789 het die burgers die gevangenis Bastille gestorm. Die Rewolusionêre het geprobeer om die land van die adelsheerskappy, die geestelikheid en ook die Christelike "bygeloof" te bevry. Die nekslag wat die adel en kerk toegedien is, het verseker dat Frankryk tot 'n sekulêre maatskappy van selfstandige burgers ontwikkel het. Die rewolusionêre neigings van die Paryse bevolkings het in die Franko-Pruisiese Oorlog van 1870-1871 met die opstand van die Paryse Commune herleef. Die beleg van Parys deur Pruisiese troepe en 'n hongersnood in die winter van 1870-1871 het egter tot die Commune se oorgawe gelei. In die tagtigerjare van die 19de eeu het Parys weer 'n tydperk van bloeiende welvaart beleef wat as La Belle Époque bekend staan. In hierdie tydperk is die bekendste baken van die stad, die Eiffeltoring, opgerig (1889). Parys het ook as die gasheerstad van die Olimpiese Spele van 1900 opgetree. Die Tweede Wêreldoorlog en die Duitse blitzkrieg het die bitter jare van Duitse besetting gebring. In die laat somer van 1944 is Parys deur Geallieerde Anglo-Franse Magte bevry. Studenteproteste en stakings dwarsoor die land het die Paryse regering in 1968 geskud. Anders as byvoorbeeld in Duitsland het die studente- en werkersbewegings in Frankryk saamgesluit, en die eskalerende betogings en proteste het vir sommige destydse waarnemers selfs die gevaar van 'n burgeroorlog ingehou. Die sestigerjare was ook 'n tydperk van ekonomiese vooruitgang; die ontwikkeling van die wolkekrabberbuurt La Défense het in hierdie periode 'n aanvang geneem. Parys het sy rol as wêreldstad in die volgende dekades met 'n reeks asemrowende argitektoniese projekte bevestig wat deur die Franse Staatspresidente bevorder is. President Georges Pompidou was die dryfkrag agter die bou van die Centre Culturel in die stadswyk Beaubourg; President Valéry Giscard d'Estaing het die Musée de l'Orsay, die Institut du Monde arabe en die Cité des Sciences et de l'Industrie bevorder; terwyl die glaspiramide van die Louvre, die Opéra-Bastille, die Bibliothèque de France en die Grande Arche in La Défense onlosmaaklik met President François Mitterrand verbind is. In Desember 2005 het die EPAD, die organisasie wat tans die ontwikkeling van La Défense beheer, planne bekend gestel om 'n nuwe reeks van wolkekrabbers (waarvan een met 'n hoogte van sowat vierhonderd meter) en 'n nuwe skouburg met 5 000 sitplekke op te rig. Die beslissing van die Internasionale Olimpiese Komitee in Julie 2005 om die Olimpiese Spele van die jaar 2012 eerder in Londen as in Parys te hou is in Parys en dwarsoor Frankryk met ontsteltenis ter kennis geneem. Parys se banlieues, 'n ring van voorstede wat onder meer as woonkwartiere vir minderbevoorregte bevolkingsgroepe soos Noord- en Swart-Afrikaanse immigrante dien, was in die herfs van 2005 weer eens die skouplek van gewelddadige onluste, wat vinnig oor die hele land versprei het. Grootskaalse immigrasie van ongeskooldes, wat werkloosheid, armoede, woningnood en misdaad tot gevolg het, het 'n ernstige probleem vir Franse metropole geskep. Die opgehoopte frustrasie van veral jeugdiges word vergroot deur die feit dat hulle grotendeels Franse burgerskap het, maar desondanks nie in die Franse maatskappy geïntegreer is nie. Baie van hulle kan selfs nie die bus- of treinkaartjie vir 'n besoek aan die Paryse binnestad bekostig nie en staan dus geen kans op 'n werkgeleentheid nie. Die onluste in 2005 het ná die dood van twee jeugdiges in 'n ongeluk uitgebreek. Hulle het valslik geglo dat hulle deur polisiemanne agternagesit sou word en gevlug. Gewelddadige betogings en opmerkings deur die destydse Franse Minister van Binnelandse Sake, Nicolas Sarkozy, dat die voorstede "skoongemaak" moet word, het die aanleiding tot die landswye onluste gegee.
Roosvenster van die Sainte-Chapelle
[wysig] Ekonomie
Die hoofkwartier van Coco Chanel
Parys is die vernaamste ekonomiese sentrum van Frankryk, wat met sy reusagtige afsetgebied nog steeds aantreklik gemaak het vir die vervaardigers van verbruiksgoedere. Meer as 'n kwart van alle Franse nywerhede het hulle hoofkwartiere in die metropolitaanse gebied van Parys. Van die meer as 750 000 ondernemings in die metropolitaanse gebied van Parys het meer as 300 000 hulle hoofkwartiere in die stad self. Tans is die farmaseutiese nywerheid, die telekommunikasiebedryf, die uitgewersbedryf en navorsing die suksesvolste sektore van die Paryse ekonomie. Ten opsigte van navorsing en ontwikkeling het Parys nou die belangrikste stad in Europa geword, en vyf van die twaalf grootste banke het hulle hoofkwartiere in die stad. Die stad staan tradisioneel bekend vir sy groot verskeidenheid luukse artikels, wat van haute couture-mode en juweliersware tot reukwater en skoonheidspreparate strek. Ander belangrike nywerhede vervaardig chemiese produkte, elektroniese toerusting, motors en masjiene. Parys is ook die Franse sentrum van die uitgewers- en drukkerybedryf. Die meeste ondernemings van die Franse dienstesektor, veral finansiële instellings soos banke, opereer eweneens vanuit die hoofstad. Die finansiële sektor met die multinasionale banke BNP Paribas, Société Générale en Crédit Agricole bied tans werkgeleenthede vir sowat 270 000 mense. Sy rol as een van die belangrikste handelsmetropole in Europa verseker ook dat groot multinasionale ondernemings soos Sony, IBM, Hewlett-Packard France, Siemens und Motorola hier hulle Franse hoofkwartiere het. 38 multinasionale ondernemings het hulle internasionale hoofkwartier in die stad. Parys is ook die setel van die Europese beurs Euronext. Parys trek as een van die gastronomiese hoofstede van die wêreld voordeel uit sy ligging in die hart van een van die vrugbaarste landboustreke in Europa. Landbou vorm dan ook eeue lank die ekonomiese basis van die omgewing en verskaf die voedsel vir 'n vinnig groeiende bevolking. Ondanks die feit dat Parys een van die welvarendste gebiede in die Europese Unie is, bly die werkloosheidsyfer met sowat tien persent (7,5 persent in die metropolitaanse gebied) nog steeds sorgwekkend. Na ramings is daar meer as 50 000 dakloses wat skuiling in die metrostasies en ander plekke moet vind. [wysig] Parys se posisie in die globale ekonomieParys en sy onmiddellike omgewing, die Île-de-France, behoort met 'n bruto geografiese produk (BGP) van €449 miljard (VSA-$507 miljard) in die jaar 2003 tot die enjins van die wêreldekonomie en sou as 'n onafhanklike staat as die vyftiende grootste ekonomie ter wêreld gelys word. Met slegs 18,7 persent van Frankryk en 2,5 persent van die Europese Unie se totale bevolking genereer die hoofstad en sy omgewing naastenby dertig persent van Frankryk en 4,5 persent van die Europese Unie se BGP. In Noord-Amerika is daar net twee metropolitaanse gebiede met 'n groter BGP as Parys, New York Stad en Los Angeles, terwyl in Asië slegs Tokio en Osaka meer dienste en goedere produseer as die Franse hoofstadgewes Île-de-France. In teenstelling met wêreldstede soos Londen en New York, wat hulle in die wêreldekonomie op die verskaffing van finansiële dienste gespesialiseer het, beskik Parys nog oor 'n relatief sterk nywerheidsbasis. Met sy 650 000 werknemers is die Paryse nywerhede die belangrikste in Frankryk, nog voor die gebied Rhône-Alpes met sy metropool Lyon. Desondanks bly die verskaffing van dienste met toegevoegde waarde die belangrikste groeisektor van die Paryse ekonomie. Ten spyte van Frankryk en Parys se gewildheid as die vernaamste toeristebestemmings ter wêreld verskaf die toerismebedryf minder as vier persent van die werkgeleenthede. Jaarliks besoek 28 miljoen toeriste die Franse hoofstad, en Parys is nou een van die gewildste metropole vir internasionale konferensies met jaarliks meer as 1 000 byeenkomste, waarvan 300 internasionale vergaderings en 300 handelskoue is. Sakereise verskaf 'n jaarlikse inkomste van 3,5 miljard Euro aan die stad, terwyl die toerismebedryf meer as 9,9 miljard Euro per jaar verdien. [wysig] Besienswaardighede
[wysig] Bekende stadswyke
[wysig] Museums* Die Centre National d'Art Moderne et de Culture Georges Pompidou met sy hipermoderne argitektuur, wat deur die Italiaanse meesterargitek Renzo Piano ontwerp is, is in een van Parys se oudste woonbuurte en lok miljoene in- en uitheemse besoekers. Dit stel die kuns van die 20ste eeu ten toon en beskik oor een van die omvattendste versamelings. 'n Verskeidenheid uitstallings, konserte en rolprentvertonings is deel van die konsep (19, rue Beaubourg, 75004 Paris).
[wysig] Vermaak
[wysig] Inkopies
[wysig] VervoerParys en die omliggende Île-de-France beskik oor drie internasionale lughawens, Roissy-Charles de Gaulle (sowat 25 km noord van Parys, met 48,3 miljoen passasiers in die jaar 2003), Orly (14 km suid van Parys, met 23,1 miljoen passasiers in 2003) en Parys-Beauvais. Die lughawe Charles de Gaulle is die derde grootste en Orly die negende grootste in Europa. Die ses stasies van die Franse Spoorweë (Société nationale des Chemins de Fer Français, SNCF) is Gare du Nord, Gare de l'Est, Gare de Lyon, Gare d'Austerlitz, Gare Montparnasse en Gare Saint-Lazare. Openbare vervoerdienste word deur die RATP verskaf (Métro, busse, tramway en RER). Die stadstreine van die RER (Réseau Express Régional) beskik oor vyf linies wat tussen 5:30 en 0:30 uur ry. Die ondergrondse Métro beskik oor 15 linies en sowat 300 stasies in Parys en die voorstede; die Métrotreine ry tussen 5:30 en 0:30 uur. Busse ry tussen 5:30 en 20:30 uur. Die Paryse Métropolitain is deur die ingenieur, Fulgence Bienvenue, ontwerp, maar dit is die kunstenaars wat die stasies tot kunswerke veral in die Art Déco-styl omskep. Vandag is daar nog sowat 90 van hierdie Art déco-pawiljoene. Die Métro of Paryse moltrein, met veertien linies en 'n netwerk van sowat 200 kilometer, is die belangrikste vervoermiddel in die stad met daagliks sowat vyf miljoen passasiers. Tegelykertyd is dit 'n soort Parys in 'n neutedop. In spitstye wemel dit van duisende beroepsmense, maar vir die grootste deel van die dag is dit die wêreld van die dakloses (les clochards of les sans-abri), die musikante en kleinhandelaars. [wysig] Eksterne skakels
Hoofstede in Europa
Amsterdam | Ankara | Athene | Andorra la Vella | Belgrado | Berlyn | Bern | Bratislava | Brussel | Boedapest | Boekarest | Chişinău | Dublin | Helsinki | Kiëv | Kopenhagen | Lissabon | Ljoebljana | Londen | Luxemburg | Madrid | Minsk | Monaco | Moskou | Nicosia | Oslo | Parys | Podgorica | Praag | Pristina | Reykjavik | Riga | Rome | San Marino | Sarajevo | Skopje | Sofia | Stockholm | Tallinn | Tirana | Tórshavn | Vaduz | Valletta | Vatikaanstad | Vilnius | Warskou | Wene | Zagreb
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||