GereedskapAnder tale
|
Macau
Macau is naas Hong Kong een van twee spesiale administratiewe streke van die Volksrepubliek van Sjina. Macau is wes van die Pêrelrivierdelta geleë en grens in die noorde aan die Sjinese provinsie Guangdong. Macau was die eerste en die laaste Europese kolonie in Sjina. Portugese handelaars het hulle reeds in die 16de eeu in Macau gevestig en die gebied begin administreer. In 1887 het die Sjinese Mandjoe-regering die Portugese heerskappy oor die gebied amptelik erken. Macau het op 20 Desember 1999 weer onder Sjinese soewereiniteit gekom, maar sal volgens 'n Portugees-Sjinese ooreenkoms hierna nog vyftig jaar lank tot in 2049 'n selfregerende streek bly. Volgens die beginsel van "een land, twee stelsels" is die regering van die Volksrepubliek van Sjina verantwoordelik vir die verdediging en buitelandse betrekkinge van Macau, terwyl die streek sy eie regstelsel, polisiemag, monetêre stelsel, doeane- en immigrasiebeleid sal handhaaf. Macau word in internasionale organisasies en by internasionale gebeurtenisse deur sy eie afgevaardigdes verteenwoordig. |
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||