Hawaiï

State of Hawaii
Moku'āina o Hawai'i
Vlag van Hawaiï Staatseël van Hawaiï
Vlag van Hawaiï Seël van Hawaiï
Bynaam: The Aloha State
Map_of_USA_highlighting_Hawaiï
Ander VSA-deelstate
Hoofstad Honolulu
Grootste stad Honolulu
Goewerneur Linda Lingle (R)
Amptelike tale Engels, Hawaiïaans
Tale Engels 73,4%, Tagalog 5,4%, Japannees 5,0%, Ilokano 4,0%, Sjinees 2,0%, Hawaiïaans 1,7%, Spaans 1,7%, Koreaans 1,6% en Samoaans 1,0%
Oppervlakte 28 337 km² (43ste)
 - Land 16 649 km²
 - Water 11 672 km² (41,2%)
Bevolking (2000)
 - Bevolking 1 211 537 (42ste)
 - Bev.digtheid 72,77 /km² (13de)
Toelating tot die Unie
 - Datum 21 Augustus 1959
 - Rangorde 50ste
Tydsone UTC -10 / Somertyd: Geen
Breedtegraad 18°55' N tot 28°27' N
Lengtegraad 154°48' W tot 178°22' W
Wydte -- km
Lengte 2 450 km
Hoogte
 - Hoogste punt Mauna Kea 4 205 m
 - Gem. hoogte 925 m
 - Laagste punt Stille Oseaan 0 m
Afkortings
 - VSA-poskantoor HI
 - ISO 3166-2 US-HI
Webwerf www.hawaii.gov

Hawaiï, 'n vulkaniese eilandgroep wat sewe groot bewoonde en 125 kleiner onbewoonde eilande behels, is die 50ste en mees westelike van die Amerikaanse deelstate. Alhoewel die grootste eiland, wat met sy kenmerkende driehoeksvorm byna twee derdes van die totale oppervlak beslaan, ook die naam Hawaiï dra, bly Oʻahu met die hoofstad Honolulu die belangrikste en mees digbevolkte eiland - en ook steeds die hoofbestemming vir miljoene toeriste. Ter onderskeiding van die eilandgroep word die eiland Hawaiï deur die plaaslike bewoners dikwels Big Island (Groot Eiland) genoem.

Hawaiï lê suid van die deelstaat Alaska, noord van die Franse eiland Tahiti en sowat 3 700 kilometer wes van die Amerikaanse vasteland. Alhoewel die eilandgroep in politieke opsig deel uitmaak van Noord-Amerika en vanweë sy ligging noord van die ewenaar in geografiese opsig ook nie by die Suidsee-eilande gereken word nie, behoort dit ten opsigte van sy inheemse bevolking en beskawing wél tot Polinesië.

Die bewoners van die huidige Amerikaanse deelstaat is 'n mengelmoes van Europese en Oosterse nasies en rasse, terwyl die oorspronklike Polinesiese bewoners vandag in die minderheid is.

Die hoofstad Honolulu op die eiland Oahu
Die hoofstad Honolulu op die eiland Oahu

Hawaiï het bekendheid verwerf as een van die laaste groot eilandgroepe ter wêreld wat op 20 Januarie 1778 deur die Britse seevaarder en ontdekkingsreisiger kaptein James Cook ontdek is. Die inheemse bevolking het Cook aanvanklik as 'n godheid beskou het, maar tydens sy tweede besoek in Januarie 1779 is hy met wantroue bejeën toe die Hawaiïaners waargeneem het dat hy blykbaar nie in staat was om 'n seestorm te kalmeer nie, en uiteindelik is Cook in die heilige Kealakekuabaai vermoor.[1]

In die 19de eeu het die bekende Amerikaanse skrywer Mark Twain Hawaiï as "the loveliest fleet of islands that lies anchored in any ocean" ("die bekoorlikste vloot van eilande wat in enige oseaan geanker lê") beskryf.[2] In 1900 het Hawaiï 'n Amerikaanse besitting geword. Die Japanse lugaanval op die Amerikaanse vlootbasis Pearl Harbor op 7 Desember 1941, waartydens meer as 2 300 mense hul lewens verloor het, was 'n keerpunt van die Tweede Wêreldoorlog. In 1959 is Hawaiï as die 50ste deelstaat tot die Unie toegelaat.

Ondanks sy ligging in die Noordelike Stille Oseaan naby die Noordelike Keerkring en byna 2 400 kilometer noord van die ewenaar word Hawaiï in die algemeen veral deur toeriste as 'n tipiese Suidsee-eiland waargeneem en dikwels met 'n sorgvrye paradys geassosieer. Gevolglik het Honolulu met sy bekende Waikiki-strand al dekades gelede 'n sinoniem vir moderne Amerikaanse massatoerisme geword. Sowat 60 persent van alle besoekers kom tans uit die Verenigde State en Japan.[3] Nogtans het Hawaiï sy natuurskoon danksy die omgewingsbewustheid van sy bewoners bewaar.

Inhoud

[wysig] Geografie

Die eilandketting van Hawaiï behels 132 eilande, eilandjies, riwwe en seerotse en strek soos 'n groot boog vanuit die mees suidelike eiland - Hawaiï (19° Noord, 154° Wes) - oor 'n lengte van byna 2 600 kilometer in noordelike rigting tot by die Kure-atol (28° Noord, 179° Wes) digby die internasionale datumlyn. Hawaiï is in die sentrum van die Stille Oseaan geleë - sowat 4 700 kilometer van die Amerikaanse weskus, 6 200 kilometer van Japan en 8 000 kilometer van die Australiese metropool Sydney af.

Aangesien die Hawaiï-eilandketting deel uitmaak van die uitgestrekte Polinesiese Driehoek, wat oor Tahiti en die Paaseiland tot by Nieu-Seeland strek, word dit dikwels by die Suidsee gereken. Sy natuur, sy klimaat en sy inheemse beskawing deel inderdaad talle gemeenskaplike kenmerke met die Suidsee-eilande suid van die ewenaar.

'n Kaart van Hawaiï se hoofeilande
'n Kaart van Hawaiï se hoofeilande

Slegs sewe van die Hawaiïaanse eilande is bewoon en vorm saam met een onbewoonde eiland die sogenaamde agt hoofeilande aan die suidelike eindpunt van die eilandketting. Die hoofeilande beslaan die grootste deel van Hawaiï se oppervlakte: Hawaiï (die "Groot Eiland" en naamgewer) met 10 548, Maui met 1 888, Oahu met 1 574, Kauai met 1 432, Molokai met 676, Lanai met 362, Niihau met 190 en Kahoolawe (digby Lanai) met 117 vierkante kilometer. Met altesaam 16 697 vierkante kilometer beslaan die hoofeilande byna die hele oppervlakte van die eilandketting met 16 705 vierkante kilometer, terwyl die sowat 125 kleiner eilande, atolle en rotsbanke slegs 'n totale oppervlakte van sowat 8 vierkante kilometer het.

Die enigste noemenswaardige van die kleiner eilande is die Midway-eilande. Aangesien hulle sedert 1903 regstreeks deur die Amerikaanse Vloot beheer word, word hierdie eilandgroep met sowat 2 000 inwoners - merendeels soldate met hul gesinne - in administratiewe opsig nie by die deelstaat Hawaiï gereken nie.

Oahu met die hoofstad Honolulu vorm ondanks sy relatief klein oppervlakte die politieke en ekonomiese sentrum van die deelstaat Hawaiï en behels vier vyfdes van die totale bevolking. Aangesien Oahu as die hoofeiland fungeer, word na die ander eilande dikwels as die "buureilande" of "buite-eilande" verwys. Nogtans dra elkeen van die eilande sy trotse bynaam: Terwyl Hawaiï se bynaam - Big Island of die "Groot Eiland" - slegs na sy grootte verwys (die naam "Orgideë-Eiland" het nie ingeburger geraak nie), pronk die ander eilande met meer of min fantasieryke name soos "Tuin-Eiland" (Kauai), "Vriendelike Eiland" (Molokai), "Vallei-Eiland" (Maui) of "Spoke-" en "Pynappel-Eiland" (Lanai).

Vanweë die naam Hawaiï se dubbelsinnigheid is daar 'n konvensie om van op Hawaiï te praat as iemand op die Groot Eiland bly, en van in Hawaiï indien 'n mens die deelstaat bedoel.[4]

Afgesien van die koralriwwe is die Hawaiïese eilande uitsluitlik van vulkaniese oorsprong. Terwyl die grootste vulkane soos Mauna Kea sigbare hoogtes van meer as 4 000 meter bereik, is hierdie bergspitse net die toppe van reusagtige berge wat meer as 10 000 meter hoog vanaf die Pasifiese seebodem rys en dus as die hoogste pieke ter wêreld beskou word.

[wysig] Klimaat

Weerkundige instrumente op Mount Wai'ale'ale (Kauai), die natste plek op aarde
Weerkundige instrumente op Mount Wai'ale'ale (Kauai), die natste plek op aarde

Vanweë sy ligging in die buitenste sone van die tropegordel het Hawaiï 'n stabiele oseaanklimaat met lae temperatuurskommelings: Die gemiddelde somertemperature is met 26 °C net vier graad hoër as dié van die winter. Naas die tropiese invloede speel ook die ligging in die passaatgordel van die Noordelike Halfrond 'n beduidende rol ten opsigte van die weerspatrone. Die wind waai meestal uit noordoostelike rigting sodat daar aan die eilande se loefkante jaarliks tussen 3 000 en 5 000 liter se neerslae per vierkante meter aangeteken word. Met uiterstes van 15 000 liter is die Hawaiï-eilande selfs die wêreld se rekordhouers ten opsigte van jaarlikse reënvalle.

In teenstelling met die noordoostelike kante van die eilande kry die benedewindse streke minde as 600 liter reën per vierkante meter wat in die poreuse vulkaangrond dikwels vinnig wegsypel. In die hoofstad Honolulu word minder as 600 millimeter jaarlikse reënval aangeteken, terwyl die droogste en natste plek van die eilandketting op die eiland Kauai lê: Die jaarlikse reënval varieer hier tussen 0 millimeter in die Ka'u-woestyn in die weste van die eiland en 12 000 millimeter teen die hange van Mount Wai'ale'ale. Die meeste reënvalle word in die wintermaande tussen laat Oktober en April aangeteken.

As gevolg van die eilande se ligging in die passaatgordel is die weer dikwels bewolk sodat Hawaiï in vergelyking met ander gebiede op dieselfde breedtegraad slegs tussen 40 en 75 persent van die maksimale sonskynure per jaar kry. Behalwe vir Augustus, die enigste baie warm en bedompige maand, varieer die relatiewe humiditeit tussen 55 en 70 persent.

Temperature in die hoër geleë dele van die eilande is gewoonlik laer en kan selfs tot vriespunt daal. Vanweë die groot verskeidenheid landskapsvorme en mikroklimaatsones is die gegewens ten opsigte van gemiddelde temperature en neerslae in die algemeen slegs in 'n redelik klein gebied - meestal langs die kuslyn - van toepassing en varieer grootliks in ander dele van die eilande.

[wysig] Geologie

[wysig] Raaiselagtige lawastrome

Die tipiese uitbarsting van 'n Hawaiïese skildvulkaan: 1 aswolk 2 lawafontein 3 krater 4 lawameer 5 fumarole 6 lawastroom 7 lae van lawa en as 8 stratae 9 sill (drumpel) 10 magmapyp 11 magma-kamer 12 dyk
Die tipiese uitbarsting van 'n Hawaiïese skildvulkaan: 1 aswolk 2 lawafontein 3 krater 4 lawameer 5 fumarole 6 lawastroom 7 lae van lawa en as 8 stratae 9 sill (drumpel) 10 magmapyp 11 magma-kamer 12 dyk

Die geologiese geskiedenis van Hawaiï het in die dieptes van die Stille Oseaan begin. Die groot vulkane op die eiland Hawaiï is slegs drie miljoen jaar oud, en hulle het sowat 2,5 miljoen jaar benodig voordat hulle vir die eerste keer uit 'n oorspronklike diepte van 5 000 meter bo die seespieël verrys het. Die twee aktiewe vulkane Mauna Loa en Kilauea het daarna oor 'n tydperk van 500 000 jaar nog 4 000 meter se lawa opeengehoop om hul huidige pieke te skep.

Volgens die berekeninge van wetenskaplikes het elkeen van die vulkane jaarliks 0,1 kubieke kilometer lawa na die oppervlak vervoer. Voor die 1960's was die heersende geowetenskaplike teorieë nie in staat om die oorsprong van hierdie geweldige lawastrome te verklaar nie, net soos 'n aantal ander geologiese fenomene: Slegs die suidoostelike eilande se vulkane is nog steeds aktief, terwyl die nie-vulkaniese eilande in noordwestelike rigting al hoe kleiner en in geologiese opsig ouer word: Hawaiï is 'n relatief jong eiland wat eers sowat 500 000 jaar gelede ontstaan het, Molokai is twee, Nihoa 7,5, die French Frigate Shoals twaalf en Midway-eiland selfs 28 miljoen jaar oud.

Voor die 1960's het die heersende opvatting oor die aardkors beweer dat dit orals op die planeet tektonies stabiel en onbeweeglik sou wees. Wetenskaplikes het wél besef dat daar tektoniese prosesse soos verskuiwings plaasvind wat onder meer aardbewings tot gevolg het, maar was daarvan oortuig dat die kontinentale plate hierdeur nie geraak sou word en as "vas veranker" beskou moes word.

Eers in die 1960's het navorsers die bewys vir 'n hipotese gelewer wat al in 1920 deur die Duitse geoloog Alfred Wegener (1880-1930) gestel is: Die aardkors en ook die vastelande dryf as groot plate op die taai-vloeibare magma van die aardmantel. Hierde nuwe teorie staan nou as plaattektoniek bekend.

Volgens die plaattektoniek is gesteentes verganklik, en in die sentrale bergrûe van die oseane, waar magma deur groot splete in die aardkors opbeweeg, ontstaan steeds nuwe aardkorsgesteentes. Die splete vorm tegelykertyd die buitekante van die aardkors se groot plate wat deur onderstromings van mekaar weggedryf word. Die plate beweeg jaarliks net enkele sentimeter, en in bepaalde randgebiede gly hulle terug na die aardmantel toe om sodoende gesmelt te word en 'n nuwe kringloop te begin.

Die plaattektoniek-teorie lewer 'n eenvoudige verklaring vir geologiese fenomene soos vulkanisme, aardbewings en die vorming van bergreekse. Orals waar twee plate bymekaarkom en teen mekaar bots, is daar seismiese en vulkaniese aktiwiteite en word nuwe gebergtes gevorm.

[wysig] John Tuzo Wilson se hotspot-teorie

Strome van pāhoehoe of basaltiese lawa op Big Island. Foto: Mila Zinkova (2007)
Strome van pāhoehoe of basaltiese lawa op Big Island. Foto: Mila Zinkova (2007)

Aangesien die Hawaiïese vulkane nie by 'n breuklyn nie, maar in die middel van die Pasifiese Plaat - en dus duisende kilometer van enige plaatgrens af - geleë is, is 'n bykomende teorie benodig wat deur die geowetenskaplike John Tuzo Wilson (1908-1993) geformuleer is: Volgens hom tree sogenaamde hotspots as onbeweeglike vurige vlekke op bepaalde plekke van die aardkors op. Hul sterk hitte brand holtes in die Pasifiese Plaat sodat magma kan opbeweeg wat eers op die seebodem uitstroom en later na die seevlak opstyg om uiteindelik nuwe eilande te vorm.

Wilson se hotspot-teorie verduidelik ook hoekom net die suidoostelike Hawaiï-eilande nog deur vulkanisme geraak word - hulle lê tans regstreeks oor een van die vurige plekke, terwyl die ander eilande al lank daarvan wegbeweeg het. Geowetenskaplikes is nou ook in staat om die spesifieke eienskappe van Big Island se lawa - dit is meer vloeibaar en bevat minder gasse as ander soorte lawa - te verklaar. Dit is afkomstig van 'n gedeelte van die aardkors wat deur baie hoë temperature gekenmerk word.

Aan die hand van die ouderdom van die Hawaiï-eilandketting en sy lengte het wetenskaplikes berekeninge ten opsigte van die snelheid, waarmee die Pasifiese Plaat beweeg, gedoen om sodoende Wilson se hipotese te toets. Die berekeninge het ooreenkom met ander metings en bevestig dat die Pasifiese Plaat teen 'n snelheid van sowat agt sentimeter per jaar in noordwestelike rigting beweeg.

In 1972 het die Amerikaanse geofisikus James Morgan die oorspronklike Hotspot-teorie as sy uitgangspunt geneem om ook die beweging van die onderseese Emperor Seamounts-bergreeks te ondersoek. Die bergreeks, wat van die mees noordwestelike punt van die Hawaiï-eilandketting tot naby die Aleoete-eilande strek, is volgens Morgan net soos Hawaiï deur 'n hotspot geskep en het sowat 34 miljoen jaar gelede sy bewegingsrigting verander. Morgan se hipotese verduidelik hoekom die bergreeks 'n draai maak en voorspel ook dat die Emperor Seamounts se mees noordelike bergspits Meiji, wat 70 miljoen jaar gelede ontstaan het, binne enkele miljoen jare in 'n diepseetrog voor die Aleoete sal versink.

'n Verdere bewys vir die juistheid van Wilson se bevindings is jong vulkaniese gesteente op die seebodem sowat 30 kilometer suidoos van Big Island - die Loihi Seamount wat in 1978 deur geoloë ontdek is, is twee jaar later as 'n aktiewe vulkaan geïdentifiseer. Sy bergspits rys nog net 950 meter benede seevlak en sal in enkele duisend jare met fonteine van waterdamp uit die Stille Oseaan opstyg om geleidelik 'n nuwe eiland te vorm.

[wysig] Verwering en erosie

'n Lugfoto van Nihoa
'n Lugfoto van Nihoa

Die tweede belangrike geologiese kringloop, waardeur die Hawaiï-eilandketting geraak word, speel hom in teenstelling met die vulkanisme in 'n korter tydspan van slegs enkele miljoen jare af. Verwering en erosie omskep die vulkaniese landskappe tot tropiese reënwoud, vrugbare landbougrond en klipstrande. Terwyl die branders die lawastroom op die strand van Kaimu (Big Island), wat meer as 250 jaar gelede hier gevloei en gestol het, tot swart korreltjies fyngemaal het, is die strande op die noordwestelike eilande soos O'ahu reeds wit.

Die mees westelike eilande het vulkaniese berge as gevolg van erosieprosesse tot rotskoppies gekrimp soos byvoorbeeld Tanager Peak op die eiland Nihoa en Miller's Peak. Nihoa lyk vandag op 'n ysberg in die oseaan aangesien die grootste gedeelte van sy skildvulkaan, wat vroeër net soos Mauna Kea enkele duisend meter bo seevlak verrys het, nou onder water lê. Rolstene en sand van die vulkaniese berghellings is hier opeengehoop, en 'n koralrif word hier tans langsamerhand opgebou. Die uiterste weste van Hawaiï is tot atolle met blou strandmere en kringvormige sandeilande soos Laysan en Midway geërodeer.

[wysig] Ekonomie

'n Kruisvaartskip van die Noorse redery Norwegian Cruise Lines (NCL) in Nawiliwili Harbor (Kauai)
'n Kruisvaartskip van die Noorse redery Norwegian Cruise Lines (NCL) in Nawiliwili Harbor (Kauai)

Hawaiï is een van die vinnigste ontwikkelende deelstate van die VSA - die per capita-inkomste het tussen 1960 en 1970 met $4 600 meer as verdubbel en in 1990 die $18 000-kerf oorskry. In 2006 het dit reeds meer as $38 000 beloop en was die 16de hoogste in die VSA.

Hawaiï se ekonomiese geskiedenis word deur 'n opeenvolging van hoofuitvoere en hoofnywerhede gekenmerk wat sandelhout, walvisvangs, suikerriet en pynappels ingesluit het. Tot by die periode kort ná die Tweede Wêreldoorlog is die ekonomiese lewe daarnaas deur vyf groot suikerriet-maatskappye, die sogenaamde Big Five, oorheers wat ook 'n groot invloed op die politieke ontwikkeling uitgeoefen het. Eers met die staatwording van Hawaiï en die opkoms van 'n georganiseerde vakbondbeweging het die Big Five hul oorheersende invloed geleidelik verloor.

Sedert die middel van die 20ste eeu het die Amerikaanse Weermag, toerisme en onderwys tot die belangrikste ekonomiese sektore ontwikkel. Toerisme is sedert 1959, toe Hawaiï 'n Amerikaanse deelstaat geword het, die grootste sektor wat sowat 'n kwart van die bruto nasionale produk (BNP) oplewer. Die openbare sektor het nogtans die belangrikste werkgewer gebly. Die huidige ekonomiese beleid is veral op diversifisering gemik.

[wysig] Landbou

'n Jong Hawaiïese sandelhoutboom (Santalum ellipticum)
'n Jong Hawaiïese sandelhoutboom (Santalum ellipticum)
Tarovelde op die eiland Kaua'i
Tarovelde op die eiland Kaua'i
Taroknolle, 'n tradisionele Hawaiïese stapelvoedsel
Taroknolle, 'n tradisionele Hawaiïese stapelvoedsel

Die tradisionele gewasse, wat deur die eerste Polinesiese setlaars in Hawaiï ingevoer is en naas vis 'n belangrike rol as stapelvoedsel gespeel het, was die stapelvoedsel taro (Colocasia esculenta of antiquorum, Hawaiïes: kalo, 'n plant wat vanweë sy mitologiese betekenis ook 'n beduidende rol by Hawaiïese rituele gespeel het), broodvrugte ( 'ulu), patats ( 'uala), yams, groente, varings, vrugte en seewier (limu).[5]

Sandelhout was sedert 1790 een van die eerste belangrike uitvoere, maar grootskaalse ontbossing het reeds in die 19de eeu 'n einde aan die sandelhoutbedryf gemaak. Ook die walvisvangers, wat Hawaiï as 'n basis en handelsentrum gebruik het, het met die ontginning van ruolie in die VSA op 'n slag broodloos geword nadat die goedkoop petroleum walvisolie vinnig vervang het.

Ander gewasse en bome, wat eers in die moderne tydperk in Hawaiïingevoer is, sluit lemoene (1792), koffie en pynappels (1813), mangobome (1824), rys (1858), eukaliptus (bloekom, 1870), ysterhoutbome (1880's en 1890's), macadamianeute (1881), Smooth Cayenne-pynappels (1890) en Solo-papajas (1911) in.

Suikerriet is reeds deur die eerste Polinesiese setlaars op Hawaiï ingevoer, en in die vroeë 19de eeu het Sjinese en Spanjaarde die eerste pogings onderneem om dié gewas op 'n grootskaalse manier te verbou. Maar eers in 1835 het die industriële suikerbedryf op die eiland Kauai met die bou van die eerste suikermeule 'n aanvang geneem.

Vanweë die knellende tekort aan mannekrag - talle inheemse Hawaiïers het aan nuwe siektes beswyk wat deur die Europeërs en ander vreemdelinge op die eilande versprei is - het die suikerbedryf vanaf 1850 gasarbeiders uit Sjina en later ook uit Japan, Korea, Puerto Rico, die Filippyne en selfs Europa in diens geneem. Die bedryf het land - wat dikwels aan die droë, benedewindse kant van die eilande geleë was - teen lae pryse van Hawaiïese families gekoop en danksy die besproeiing van die suikerrietgewasse in vrugbare grond omgeskep. Nuwe landboumetodes, plaagbeheer en die teelt van geskikte suikerrietsoorte het die opbrengste aansienlik verhoog.

Weens oorproduksie en die gepaardgaande prysverlaging, maar ook as gevolg van 'n nypende watertekort het die Hawaiïese suikerbedryf in die laat 20ste eeu groot moeilikhede ondervind, en 'n aantal suikermeule is gesluit.

Ofskoon dit steeds minder landbougrond beslaan het as die suikerrietplantasies, het die pynappelbedryf 'n simbool van Hawaiï geword, onder meer danksy die hoë gehalte van plaaslike kultivars wat op die vrugbare vulkaangrond goed geaard het. Die geskiedenis van die bedryf het reeds in die vroeë 19de eeu begin, tog word James Drummond Dole as die pionier van die industriële pynappelverbouing in Hawaiï beskou. In 1901 het Dole sy Hawaiian Pineapple Company geïnkorporeer. Dole se pynappelfabriek in Honolulu, waar in die tydperk tussen 1907 en 1991 die meeste van sy vrugte ingeblik is, was 'n tyd lank die grootste van sy soort wêreldwyd. Net soos die suikerbedryf was ook die pynappelprodusente op buitelandse plaaswerkers aangewese.

Teen die middel van die 20ste eeu was Hawaiï die grootste pynappelprodusent ter wêreld, en die plaaslike bedryf het met sy agt maatskappye en 3 000 werkers sowat vier vyfdes van die wêreldoes opgelewer.[6] Nog in die 1990's het 60 persent van alle ingeblikte pynappelvrugte op die Amerikaanse mark uit Hawaiï gekom.

Vanweë die hoër produksiekoste het Hawaiï sy status as belangrike pynappelprodusent intussen lankal aan lande soos Thailand, die Filippyne en Brasilië afgestaan wat elkeen tussen tien en dertien persent van die wêreldproduksie oplewer, terwyl Hawaiï se aandeel tot sowat twee persent gekrimp het. Nadat die maatskappy Del Monte aangekondig het dat hy sy pynappelverbouing in 2008 sal staak, is daar naas Dole Food Hawaii nog net een ander belangrike produsent in die deelstaat aktief, Maui Pineapple Co. Die bedryf het tans nog 1 200 werknemers in diens.[7]

Aangesien die tipiese monokulture vier vyfdes van Hawaiï se landbougrond beslaan het, het ander gewasse steeds 'n minder belangrike rol gespeel. Terwyl groente, graan en aartappels nog in die middel van die 19de eeu na Kalifornië uitgevoer is, voorsien invoere tans aan 80 persent van Hawaiï se voedselbehoeftes. Selfs die verbouing van taro, 'n inheemse knolgewas en tradisionele stapelvoedsel, het sedert 1950 met sowat 50 persent afgeneem.

Die belangrikste landbouprodukte, wat nog steeds uitgevoer word, is papajas en ander tropiese vrugte, Kona-koffie (eiland Hawaiï), Maui-koffie (Maui), macadamianeute (Hawaiï), gemmer (met 'n rekordoes van 18 miljoen pond in 1998) en blomme, veral orgideë. Die stad Hilo op Big Island is die sentrum van die Hawaiïese orgideëbedryf.

Hawaiï is die enigste VSA-deelstaat waar koffie op 'n kommersiële basis verbou word. Die jaarlikse produksie op die eilande Hawaiï, Kauai, Maui, Molokai en Oahu het in die 1990's sowat 7,6 miljoen pond beloop.[8]

Tans word sowat 'n tiende van die deelstaat se totale oppervlakte vir landboukundige doeleindes gebruik. Die landboubedryf word deur groot plantasies met 'n gemiddelde oppervlakte van meer as 200 hektaar oorheers.[9]

[wysig] Veeteelt

Die vrugbare vulkaniese weivelde van die Parker Ranch op Big Island
Die vrugbare vulkaniese weivelde van die Parker Ranch op Big Island

Die eerste beeste uit Kalifornië is deur kaptein George Vancouver tydens sy tweede seereis in 1793 ingevoer. Saam met hierdie eerste vee het in die volgende jaar nog enkele beeste op die eiland Hawaiï aangekom. Van die agt vroulike en vier manlike diere het twee kort ná die landing beswyk. Aangesien koning Kamehameha I 'n taboe op die slagting van die beeste geplaas het, was daar in 1830, toe die taboe opgehef is, het die kudde beeste aansienlik vermeerder.[10]

Veeteelt word in Hawaiï vandag met die Parker Ranch op Big Island vereenselwig. Die ranch is as een van die oudste bestaande veeplase in die VSA al in 1847 deur die veeteler John Palmer Parker gestig wat destyds geprobeer het om Europese beesrasse op die eiland in te voer. Die ranch op die Waimea-hoogplato het met sy sowat 60 000 beeste vinnig tot een van die grootste Amerikaanse veeplase gegroei en strek tans oor 'n oppervlakte van 150 000 akkers (610 vierkante kilometer).

Die plaaslike cowboys van oorspronklik Spaans-Mexikaanse afkoms staan plaaslik as paniolos bekend ('n Hawaiïese weergawe van españoles of Spaanssprekendes), alhoewel later ook Filipinos, Sjinese en Japannese as paniolos op die veeplaas kom werk het. Parker Ranch, wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog as 'n oefenterrein vir 50 000 soldate van die Amerikaanse Marine Corps gebruik is, is ná die afsterwe van sy laaste eienaar, Richard Smart, in 1992 in 'n nie-winsgewende stigting (Parker Ranch Foundation Trust) omgeskep wat hom vir gesondheidsorg, onderwys en die sosiale welsyn van mense in die plaaslike Waimea-gemeenskap beywer.[11]

Naas die Parker Ranch is daar nog 'n aantal kleiner veeplase op die ander eilande, tog kan die plaaslike veetelers net in sowat veertig persent van Hawaiï se vleisbehoeftes voorsien. Kleiner veeboederye spits hulle op melkproduksie toe.

[wysig] Energie en natuurlike hulpbronne

'n Hawaiï-gebaseerde C-17 Globemaster III oor die Hickam-lugmagbasis. Die energie-intensiewe militêre sektor is 'n grootskaalse verbruiker van kerosien
'n Hawaiï-gebaseerde C-17 Globemaster III oor die Hickam-lugmagbasis. Die energie-intensiewe militêre sektor is 'n grootskaalse verbruiker van kerosien
South Point Wind Farm
South Point Wind Farm

Die deelstaat Hawaiï beskik - behalwe vir bauxiet wat op die eiland Kauai aangetref word - nie oor enige noemenswaardige minerale hulpbronne nie.

Aangesien die deelstaat Hawaiï ver af van die Amerikaanse vasteland geleë is, verskil sy energie-infrastruktuur en sy verbruik sterk van dié van die ander 49 deelstate. Tans is Hawaiï nog afhanklik van ingevoerde fossiele brandstowwe om in sy energiebehoeftes te kan voorsien. Ruolie lewer sowat 90 persent van die benodigde energie op, terwyl steenkool en aardgas geen noemenswaardige rol speel nie.

Die per capita-energieverbruik is een van die laagstes in die VSA, en vanweë die warm tropiese klimaat benodig die meeste huishoudings byvoorbeeld geen energie vir verwarmingdoeleindes nie. Die vervoersektor, wat veral kerosien vir militêre en kommersiële vliegtuie benodig, is die belangrikste verbruiker van energie met 'n aandeel van meer as 50 persent, terwyl die deelstaat se ekonomiese hoofsektor toerisme nie energie-intensief is nie.[12]

Twee groot olieraffinaderye op Oahu verwerk ruolie wat uit Alaska en uit die buiteland ingevoer word en voorsien in Hawaiï se groot behoefte aan vloeibare brandstowwe vir siviele en militêre doeleindes. 'n Plaaslike wet skryf voor dat petrol vir motorvoertuie met suurstof verryk moet word.[13]

Hawaiï se huidige termiese kragsentrales is oorwegend oliegedrewe en wek meer as drie kwart van die deelstaat se elektrisiteit op. Met die begin van die energiekrisis in die laat 20ste eeu het hernubare energie 'n steeds belangriker rol in Hawaiï begin speel, en 'n talle kleinskaalse energieprojekte is aangepak.

Die termiese kragsentrales op die eiland Hawaiï maak uitsluitlik gebruik van biologiese afvalprodukte van die plaaslike suiker- en macadamianeutbedryf of etanol, terwyl 'n windkragsentrale bykomende elektrisiteit in spitstye verskaf. Geotermiese vulkaniese energie word eweneens op Hawaiï ingespan.[14] Danksy die intensiewe sonstraling het sonenergie 'n beduidende bron vir warmwater in privaathuise geword. Die veertien windturbines van die Pakiki Nui-windkragprojek in South Point (Big Island) verskaf sedert 2007 elektrisiteit aan sowat 10 000 huishoudings op die eiland.[15]

Die regering van Hawaiï het vroeg in 2008 'n ambisieuse inisiatief aangekondig waarvolgens die deelstaat sy ruolieverbruik tot by die jaar 2030 met 72 persent sal verminder en dit deur hernubare energie sal vervang.[16]

[wysig] Kultuur

[wysig] Taal

Adelbert von Chamisso (1781-1838) het die eerste Hawaiïaanse grammatika saamgestel
Adelbert von Chamisso (1781-1838) het die eerste Hawaiïaanse grammatika saamgestel

Hawaiïaans (Hawaiïaans: ‘Ōlelo Hawai‘i), 'n Polinesiese taal met 'n oorspronklike woordeskat van sowat 25 000 woorde, maak deel uit van die Austronesiese taalfamilie en het naas Engels ampstaalstatus in die deelstaat Hawaiï. Die eerste grondwet in Hawaiïaans is in die jare 1839 en 1840 deur koning Kamehameha afgekondig.

Die eerste Europeër, wat Hawaiïaans noukeurig bestudeer het, was die Duitse digter en natuurkundige Adelbert von Chamisso (1781-1838). Hy het aan boord van die Russiese brik Rurik na Hawaiï geseil en in die laat herfs van 1816 drie weke op Big Island gebly. Tien maande later het hy 'n tweede reis van twee weke na Hawaiï onderneem. Danksy sy navorsingsreise en uitgebreide leeswerk was Chamisso in staat om twintig jaar later die eerste Hawaiïaanse grammatika te skryf. Die werk met die titel Über die hawaiische Sprache is op 12 Januarie 1837 aan die Berlynse Akademie der Wissenschaften voorgelê wat Chamisso destyds as lid aanvaar het.[17]

In die periode tussen die 1830's en die 1950's het die aantal moedertaalsprekers van Hawaiïaans geleidelik afgeneem, en op ses van die sewe bewoonde eilande is die inheemse taal deur Engels vervang. In die laat 20ste eeu het nog sowat 2 000 mense, veral bejaardes, op alle eilande Hawaiïaans as hul eerste taal gebruik. Die Hawaiïaanse bevolking van die "Verbode Eiland" Niihau is met sowat 180 mense een van die belangrikste groepe Hawaiïaanssprekendes.[18]

Sedert 1949 het belangstelling in die inheemse taal weer toegeneem. Hawaiïaans is in 1978 as tweede ampstaal naas Engels erken, en in 1979 is 'n leerstoel vir Hawaiïaans aan die Universiteit van Hawaiï in Hilo gevestig. Openbare Hawaiïaansmedium-voorskole (Pūnana Leo) is in 1984 as die eerste in 'n reeks Hawaiïaanstalige skole in die lewe geroep. Die eerste leerders wat hier skoolgegaan het, het intussen grade by kolleges behaal, en baie van hulle praat vlot Hawaiïaans. Die kulturele herlewing op die eilande skep 'n gunstige klimaat vir die oorlewing van die taal wat dekades lank as bedreig beskou is.

As 'n Polinesiese taal is Hawaiïaans veral ten opsigte van sy melodieuse klankstelsel verwant met die ander tale van die Polinesiese Driehoek soos Tahitiaans en Samoaans. Die kenmerkende spelling met sy talle vokale, wat deur Amerikaanse sendelinge ná hul aankoms op die eilandketting in 1820 geskep is, verskil egter sterk van dié van ander Suidseetale. Die sendelinge het hulle by die transkripsie van Hawaiïaans beperk tot die vyf klinkers (a, e, i, o en u) en sewe medeklinkers (h, k, l, m, n, p en w). Om die transkripsie van Hawaiïaanse tussenklanke te bepaal, het die taalkundige sendelinge gewoonlik gestem en die spelling volgens die meerderheid se besluit vasgelê. Gevolglik verskil die spelwyse van woorde soms sterk van dié van ander Polinesiese tale - tabu ("taboe"), wat in die meeste Polinesiese tale voorkom, word in Hawaiï byvoorbeeld as kapu weergegee.[19] In woorde soos lūʻau ("Hawaiïaanse feesmaal") verteenwoordig elke klinker 'n sillabe.

Saam met die okina, 'n soort plofklank en medeklinker, beskik die Hawaiïaanse alfabet oor dertien letters. Die okina is eers in die laat 20ste eeu ingevoer en soos 'n omgekeerde apostroof (ʻ) geskryf om klinkers van mekaar te skei, soos byvoorbeeld in Hawaiʻi.

Naas die twee amptelike tale Engels en Hawaiïaans speel die plaaslike kreooltaal (Hawaiʻi Creole) nog 'n belangrike rol as omgangstaal. Die Hawaiïese Kreools het oorspronklik as 'n verkeerstaal vir kommunikasie tussen inheemse en uitheemse Engelssprekendes in Hawaiï ontstaan en die Polinesiese Hawaiïaanse Pidgin as omgangstaal vervang. Die woordeskat van Hawaiʻi Creole is met Portugese, Hawaiïaanse, Tagalog-, Japannese, Koreaanse en in 'n mindere mate Spaans-Mexikaanse en Spaans-Puertorikaanse leenwoorde verryk.

[wysig] Branderplankry

'n Branderplankryer op die golwe van Oahu se North Shore
'n Branderplankryer op die golwe van Oahu se North Shore

Net soos in ander Polinesiese gemeenskappe het branderplankry ook in Hawaiï 'n belangrike rol gespeel en het deel gevorm van die plaaslike rituele. Tydens die vervaardiging van 'n branderplank en sy eerste gebruik is religieuse plegtighede gehou. Volgens Hawaiïese liedere was dit die "sport van konings" wat al in die 15de eeu beoefen is. Gewoonlik het die konings en stamhoofde oor die beste branderplanke beskik wat van die beste beskikbare hout vervaardig is, en ook die mees geskikte strande was net vir die heersersklas toeganklik.

Duke Kahanamoku op 'n poskaart uit die jaar 1915
Duke Kahanamoku op 'n poskaart uit die jaar 1915

Die stamhoof was gewoonlik die beste branderplankryer van die gemeenskap en het sodioende sy hoë status bevestig. Ook gewone Polinesiërs was by die sport betrokke en het hulle vaardighede op die swaar branderplanke bewys. Hierdie tradisionele planke was sowat ses meter lank met 'n gewig van meer as 150 pond e is oorwegend van swaar koa-hout gemaak. Die historiese swaar branderplanke word deesdae net op baie groot branders gebruik.

Die Christelike sendelinge, wat omstreeks 1820 na Hawaiï gekom het, het branderplankry as 'n dekadente tydverdryf beskou, en tydens die 19de eeu het hierdie sport by die inheemse bevolking minder gewild geraak. Eers in die vroeë 20ste eeu het Blanke geesdriftiges die ou Polinesiese sport herontdek. Veral die plaaslike branderplankryer Duke Kahanamoku (1890-1968), wat as swemmer in 1912 en 1920 Olimpiese goue medaljes gewen het, het baie tot die nuwe gewildheid van die sport bygedra. Hy het in Kalifornië en aan die Amerikaanse weskus net soos in Australië duisende aangesteek met sy geesdrif vir branderplankry. In 1968, die jaar van sy afsterwe, is 'n belangrike kompetisie, die Duke Kahanamoku Surfing Classic, na hom vernoem.

Makaha Beach aan die weskus van Oʻahu is die toneel van die Buffalo's Big Board Surfing Classic, 'n kompetisie waarby die ou tradisionele olo-branderplankrystyl met die sogenaamde elephant guns herleef - baie swaar Polinesiese branderplanke met 'n gewig van tot by vyftig pond en 'n lengte van dikwels meer as drie meter. Die kompetisie, wat in die styl van die ou Hawaiïese makahiki-sportfees gehou word, is deur die plaaslike branderplankryer Richard "Buffalo" Keaulana in die lewe geroep.

Die atletiese sport word vandag dwarsoor die wêreld deur mans en vroue beoefen. Die groot Hawaiïese branderplankry-kompetisies word gewoonlik tussen laat November en die middel van Desember gehou wanneer die winterstorms in die noordelike Stille Oseaan veral langs die noordkus van Oahu baie groot branders laat ontstaan en sodoende gunstige toestande vir branderplankryers skep. 'n Sirene kondig die natuurverskynsel vir alle geesdriftiges in die gebied aan wat met bekende branderplankrystrande soos Sunset Point, Waimea Bay en Halaiwa pronk.

[wysig] Verwysings

  1. ^ Stahn, Eberhard: Hawaii. Reiseführer mit Landeskunde. Dreieich: Mai Verlag 1995, bl. 53-55
  2. ^ Young, Gordon: Hawaii, Island of Fire and Flowers. In: National Geographic Magazine, volume 147, nommer 3, Maart 1975, bl. 399
  3. ^ Stahn (1995), bl. 14
  4. ^ Stahn (1995), bl. 21
  5. ^ Canoe Plants of Ancient Hawai'i
  6. ^ gohawaii.about.com
  7. ^ gohawaii.about.com: Del Monte to End Pineapple Production in Hawaii
  8. ^ Geskiedenis van landbou in Hawaiï
  9. ^ MERIAN: Hawaii. Hamburg: Hoffmann und Campe, September 1984, bl. 146
  10. ^ hawaiiag.org: Die geskiedenis van landbou in Hawaiï
  11. ^ Die amptelike webwerf van die Parker Ranch: About the Ranch
  12. ^ Energy Information Administration: Hawaii
  13. ^ Energy Information Administration: Hawaii
  14. ^ Hawaii's Energy Future: Renewable Enerrgy Sources
  15. ^ Wind farm to service 10,000 households. In: Honolulu Star-Bulletin, 14 September 2006
  16. ^ Clean Energy Initiative
  17. ^ Schweizer, Niklaus R.: Aloha Kelemania. In: MERIAN - Hawaii. Hamburg: Hoffmann und Campe, September 1984, bl. 90
  18. ^ Stahn (1995), bl. 82
  19. ^ Stahn (1995), bl. 82

[wysig] Eksterne skakels

Landbou


{{{beeld_links}}} Verenigde State {{{beeld_groot}}}
State AlabamaAlaskaArizonaArkansasKaliforniëColoradoConnecticutDelawareFloridaGeorgiaHawaiïIdahoIllinoisIndianaIowaKansasKentuckyLouisianaMaineMarylandMassachusettsMichiganMinnesotaMississippiMissouriMontanaNebraskaNevadaNew HampshireNew JerseyNieu-MexikoNew YorkNoord-CarolinaNoord-DakotaOhioOklahomaOregonPennsilvaniëRhode IslandSuid-CarolinaSuid-DakotaTennesseeTexasUtahVermontVirginiëWashingtonWes-VirginiëWisconsinWyoming
Federale Distrik Washington D.C.
Eilandgebiede Amerikaanse Maagde-eilandeAmerikaans-SamoaGuamNoordelike MarianasPuerto Rico
Klein afgeleë eilande BakerHowlandJarvisJohnstonKingmanMidwayNavassaPalmyraWake

SEO Tools system wymiany linków SEO Tools SEO Tools tanie kredyty gotówkowe kreatyna Plaza 3 star hotel Los Angeles krynica noclegi Sejm Tyk